South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

2 Konings 16

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25]

2 KON 16:1 In die sewentiende jaar van Peka, die seun van Remália, het Agas, die seun van Jotam, die koning van Juda, koning geword.
2 KON 16:2 Twintig jaar was Agas oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer en nie gedoen wat reg was in die oë van die HERE sy God soos sy vader Dawid nie.
2 KON 16:3 Maar hy het gewandel in die weg van die konings van Israel; ja, hy het selfs sy seun deur die vuur laat deurgaan volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdryf het.
2 KON 16:4 Hy het ook geoffer en rook laat opgaan op die hoogtes en op die heuwels en onder elke groen boom.
2 KON 16:5 Toe het Resin, die koning van Aram, en Peka, die seun van Remália, die koning van Israel, opgetrek na Jerusalem om te veg, en hulle het Agas ingesluit; maar hulle kon nie veg nie.
2 KON 16:6 In dieselfde tyd het Resin, die koning van Aram, Elat aan Aram gebring en die Jode uit Elat verdrywe; en die Edomiete het in Elat gekom en daar gaan woon tot vandag toe.
2 KON 16:7 Agas stuur toe boodskappers na Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, om te sê: Ek is u dienaar en u seun; kom op en verlos my uit die hand van die koning van Aram en uit die hand van die koning van Israel wat teen my optree.
2 KON 16:8 Tegelykertyd neem Agas die silwer en die goud wat te vinde was in die huis van die HERE en in die skatkamers van die huis van die koning en stuur dit as 'n geskenk aan die koning van Assirië.
2 KON 16:9 En die koning van Assirië het na hom geluister, en die koning van Assirië het teen Damaskus opgetrek en dit verower en hulle in ballingskap weggevoer na Kir en Resin gedood.
2 KON 16:10 Toe trek koning Agas Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, tegemoet na Damaskus; en nadat hy die altaar gesien het wat in Damaskus was, stuur koning Agas aan die priester Uría 'n tekening en afbeelding van die altaar volgens die hele inrigting daarvan.
2 KON 16:11 En die priester Uría het die altaar gebou--geheel en al volgens opdrag van koning Agas uit Damaskus, so het die priester Uría gedoen voor die koms van koning Agas uit Damaskus.
2 KON 16:12 En toe die koning van Damaskus af kom en die koning die altaar sien, het die koning nader gekom na die altaar en daarop geklim.
2 KON 16:13 En hy het sy brandoffer en sy spysoffer aan die brand gesteek en sy drankoffer uitgegiet en die bloed van sy eie dankoffers teen die altaar uitgegooi.
2 KON 16:14 Maar die koperaltaar wat voor die aangesig van die HERE was, het hy van die voorkant van die huis gebring, tussen sy altaar en die huis van die HERE uit, en dit aan die noordekant van sy altaar gesit.
2 KON 16:15 En koning Agas het hom, die priester Uría, bevel gegee en gesê: Steek op die groot altaar aan die brand die môrebrandoffer en die aandspysoffer en die koning se brandoffer en sy spysoffer en die brandoffer van die hele volk van die land en hulle spysoffer en hulle drankoffers; en gooi al die bloed van brandoffers en al die bloed van slagoffers daarteen uit; maar die koperaltaar sal vir my wees om verder te oorweeg.
2 KON 16:16 En die priester Uría het gedoen net soos koning Agas beveel het.
2 KON 16:17 En koning Agas het die sluitplate van die afspoelwaentjies weggesny en die waskom van hulle afgeneem, en die see het hy van die koperbeeste wat daaronder was, afgelig en dit op 'n klipvloer gesit.
2 KON 16:18 En die oordekte gang vir die sabbat wat by die tempel gebou is, en die buitenste ingang van die koning, het hy uit die huis van die HERE verwyder ter wille van die koning van Assirië.
2 KON 16:19 En die verdere geskiedenis van Agas, wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
2 KON 16:20 En Agas het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van Dawid, en sy seun Hiskía het in sy plek koning geword.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500