South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Handelinge van die Apostels 28

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28]

HANDELINGE 28:1 En eers toe ons gered was, het ons te wete gekom dat die eiland Melíte genoem word.
HANDELINGE 28:2 En die inboorlinge het ons buitengewone mensliewendheid bewys, want hulle het 'n groot vuur aangesteek en ons almal daarby gebring weens die reën wat gedreig het en weens die koue.
HANDELINGE 28:3 En Paulus het 'n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en 'n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt.
HANDELINGE 28:4 En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis 'n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered.
HANDELINGE 28:5 Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie.
HANDELINGE 28:6 En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy 'n god was.
HANDELINGE 28:7 Nou het die hoof van die eiland, wie se naam Públius was, in die omgewing van daardie plek 'n stuk grond gehad, en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik geherberg.
HANDELINGE 28:8 En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.
HANDELINGE 28:9 En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees.
HANDELINGE 28:10 En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien.
HANDELINGE 28:11 En ná drie maande het ons afgevaar in 'n skip van Alexandríë met die skeepsmerk Castor en Pollux, wat op die eiland oorwinter het.
HANDELINGE 28:12 En ons het by Sirakúse gekom en daar drie dae gebly.
HANDELINGE 28:13 Daarvandaan het ons omgeseil en by Régium aangekom en een dag later het die suidewind opgekom, en op die tweede het ons Putéoli bereik,
HANDELINGE 28:14 waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly; en so het ons na Rome gegaan.
HANDELINGE 28:15 En die broeders wat van ons lotgevalle gehoor het, het ons daarvandaan tegemoetgekom tot by die Appius-mark en die Drie Herberge; en toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed gevat.
HANDELINGE 28:16 En nadat ons in Rome gekom het, het die hoofman oor honderd die gevangenes oorgelewer aan die bevelhebber van die leër. Maar aan Paulus is dit vergun om op sy eie te woon met die soldaat wat hom moes oppas.
HANDELINGE 28:17 En ná drie dae het Paulus die vernaamste Jode saamgeroep en, nadat hulle vergader het, vir hulle gesê: Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine.
HANDELINGE 28:18 Hulle het my ondersoek en wou my loslaat, omdat daar in my niks was wat die dood verdien nie.
HANDELINGE 28:19 Maar toe die Jode daarteen opkom, was ek verplig om my op die keiser te beroep, nie asof ek iets het om my volk van te beskuldig nie.
HANDELINGE 28:20 Om hierdie rede dan het ek versoek om u te sien en toe te spreek, want dit is oor die hoop van Israel dat ek met hierdie ketting geboei is.
HANDELINGE 28:21 En hulle het vir hom gesê: Ons het geen briewe oor u van Judéa ontvang nie; ook het niemand van die broeders hier aangekom en iets slegs van u berig of gepraat nie.
HANDELINGE 28:22 Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.
HANDELINGE 28:23 En hulle het vir hom 'n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in 'n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus.
HANDELINGE 28:24 En sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly.
HANDELINGE 28:25 En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek
HANDELINGE 28:26 en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
HANDELINGE 28:27 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
HANDELINGE 28:28 Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.
HANDELINGE 28:29 En toe hy dit gesê het, het die Jode, onder groot woordestryd met mekaar, weggegaan.
HANDELINGE 28:30 En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het,
HANDELINGE 28:31 terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500