Efesiërs 5
EFESIËRS 5:1 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;
EFESIËRS 5:2 en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.
EFESIËRS 5:3 Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam;
EFESIËRS 5:4 ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.
EFESIËRS 5:5 Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n afgodedienaar is, 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.
EFESIËRS 5:6 Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.
EFESIËRS 5:7 Wees dan nie hulle deelgenote nie.
EFESIËRS 5:8 Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here--wandel soos kinders van die lig.
EFESIËRS 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.
EFESIËRS 5:10 En beproef wat die Here welbehaaglik is;
EFESIËRS 5:11 en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.
EFESIËRS 5:12 Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.
EFESIËRS 5:13 Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.
EFESIËRS 5:14 Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.
EFESIËRS 5:15 Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;
EFESIËRS 5:16 en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.
EFESIËRS 5:17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.
EFESIËRS 5:18 Moenie dronk word van wyn nie--daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
EFESIËRS 5:19 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,
EFESIËRS 5:20 terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,
EFESIËRS 5:21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.
EFESIËRS 5:22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
EFESIËRS 5:23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.
EFESIËRS 5:24 Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.
EFESIËRS 5:25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het
EFESIËRS 5:26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,
EFESIËRS 5:27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.
EFESIËRS 5:28 So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;
EFESIËRS 5:29 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.
EFESIËRS 5:30 Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
EFESIËRS 5:31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.
EFESIËRS 5:32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.
EFESIËRS 5:33 In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.
Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase