Klaagliedere van Jeremia 3
KLAAGLIED 3:1 Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.
KLAAGLIED 3:2 My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.
KLAAGLIED 3:3 Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.
KLAAGLIED 3:4 Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.
KLAAGLIED 3:5 Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite.
KLAAGLIED 3:6 Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.
KLAAGLIED 3:7 Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak.
KLAAGLIED 3:8 Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.
KLAAGLIED 3:9 Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.
KLAAGLIED 3:10 Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke.
KLAAGLIED 3:11 Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak.
KLAAGLIED 3:12 Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel.
KLAAGLIED 3:13 He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.
KLAAGLIED 3:14 Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.
KLAAGLIED 3:15 Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink.
KLAAGLIED 3:16 Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk.
KLAAGLIED 3:17 En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.
KLAAGLIED 3:18 Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE.
KLAAGLIED 3:19 Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif.
KLAAGLIED 3:20 As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.
KLAAGLIED 3:21 Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:
KLAAGLIED 3:22 Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;
KLAAGLIED 3:23 hulle is elke môre nuut; u trou is groot.
KLAAGLIED 3:24 Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.
KLAAGLIED 3:25 Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.
KLAAGLIED 3:26 Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.
KLAAGLIED 3:27 Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra.
KLAAGLIED 3:28 Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het.
KLAAGLIED 3:29 Laat hy sy mond in die stof steek--miskien is daar hoop!
KLAAGLIED 3:30 Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.
KLAAGLIED 3:31 Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.
KLAAGLIED 3:32 Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede;
KLAAGLIED 3:33 want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.
KLAAGLIED 3:34 Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap,
KLAAGLIED 3:35 dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste,
KLAAGLIED 3:36 dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak--het die HERE dit nie gesien nie?
KLAAGLIED 3:37 Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?
KLAAGLIED 3:38 Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?
KLAAGLIED 3:39 Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.
KLAAGLIED 3:40 Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer;
KLAAGLIED 3:41 laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:
KLAAGLIED 3:42 Ons het oortree en ons was wederstrewig--U het nie vergewe nie.
KLAAGLIED 3:43 Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning.
KLAAGLIED 3:44 U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie;
KLAAGLIED 3:45 U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak.
KLAAGLIED 3:46 Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek;
KLAAGLIED 3:47 skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking.
KLAAGLIED 3:48 My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.
KLAAGLIED 3:49 Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou,
KLAAGLIED 3:50 totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou.
KLAAGLIED 3:51 My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad.
KLAAGLIED 3:52 Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is;
KLAAGLIED 3:53 hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi.
KLAAGLIED 3:54 Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my!
KLAAGLIED 3:55 Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil.
KLAAGLIED 3:56 U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie.
KLAAGLIED 3:57 U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie!
KLAAGLIED 3:58 Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.
KLAAGLIED 3:59 U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg.
KLAAGLIED 3:60 U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my.
KLAAGLIED 3:61 Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my,
KLAAGLIED 3:62 die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my.
KLAAGLIED 3:63 Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied.
KLAAGLIED 3:64 Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE.
KLAAGLIED 3:65 U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle.
KLAAGLIED 3:66 U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit.
Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase