South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Aan die Romeine 12

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16]

ROMEINE 12:1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.
ROMEINE 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
ROMEINE 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat 'n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
ROMEINE 12:4 Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie,
ROMEINE 12:5 so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.
ROMEINE 12:6 En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:
ROMEINE 12:7 is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering;
ROMEINE 12:8 of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie 'n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.
ROMEINE 12:9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;
ROMEINE 12:10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;
ROMEINE 12:11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;
ROMEINE 12:12 verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.
ROMEINE 12:13 Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid;
ROMEINE 12:14 seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie;
ROMEINE 12:15 wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween;
ROMEINE 12:16 wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;
ROMEINE 12:17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;
ROMEINE 12:18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
ROMEINE 12:19 Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.
ROMEINE 12:20 As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.
ROMEINE 12:21 Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500