South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Markus 13

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16]

MARKUS 13:1 En toe Hy uit die tempel uitgaan, sê een van sy dissipels vir Hom: Meester, kyk watter klippe en watter geboue!
MARKUS 13:2 En Jesus antwoord en sê vir hom: Sien jy hierdie groot geboue? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!
MARKUS 13:3 En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik:
MARKUS 13:4 Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?
MARKUS 13:5 En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie.
MARKUS 13:6 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei.
MARKUS 13:7 Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie.
MARKUS 13:8 Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is 'n begin van die smarte.
MARKUS 13:9 Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis.
MARKUS 13:10 En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.
MARKUS 13:11 En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.
MARKUS 13:12 En die een broer sal die ander tot die dood oorlewer, en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak.
MARKUS 13:13 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
MARKUS 13:14 En wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie--laat hom wat lees, oplet--dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;
MARKUS 13:15 en wie op die dak is, moet nie afkom in die huis en ook nie ingaan om iets uit sy huis weg te neem nie;
MARKUS 13:16 en wie op die land is, moet nie omdraai na wat agter is om sy kleed weg te neem nie.
MARKUS 13:17 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae!
MARKUS 13:18 En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie.
MARKUS 13:19 Want daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie.
MARKUS 13:20 En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort.
MARKUS 13:21 En as iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Kyk, daar! --moet dit nie glo nie.
MARKUS 13:22 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
MARKUS 13:23 Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.
MARKUS 13:24 Maar in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie,
MARKUS 13:25 en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word.
MARKUS 13:26 En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid.
MARKUS 13:27 En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.
MARKUS 13:28 En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
MARKUS 13:29 So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur.
MARKUS 13:30 Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
MARKUS 13:31 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
MARKUS 13:32 Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.
MARKUS 13:33 Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.
MARKUS 13:34 Dit is soos 'n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak.
MARKUS 13:35 Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;
MARKUS 13:36 dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.
MARKUS 13:37 En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500