South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Markus 14

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16]

MARKUS 14:1 En die pasga en die fees van die ongesuurde brode sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak.
MARKUS 14:2 Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien 'n oproer onder die volk kom nie.
MARKUS 14:3 En toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit.
MARKUS 14:4 En daar was sommige wat by hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarvoor het hierdie verkwisting van die salf plaasgevind?
MARKUS 14:5 Want dit kon vir meer as drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. En hulle het teen haar uitgevaar.
MARKUS 14:6 Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het 'n goeie werk aan My gedoen.
MARKUS 14:7 Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie.
MARKUS 14:8 Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf.
MARKUS 14:9 Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar.
MARKUS 14:10 En Judas Iskáriot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hom aan hulle oor te lewer.
MARKUS 14:11 En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee. En hy het na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
MARKUS 14:12 En op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet?
MARKUS 14:13 En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom,
MARKUS 14:14 en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet?
MARKUS 14:15 En hy sal julle 'n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak.
MARKUS 14:16 En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei.
MARKUS 14:17 En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf.
MARKUS 14:18 En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.
MARKUS 14:19 Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En 'n ander een: Is dit miskien ek?
MARKUS 14:20 En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek.
MARKUS 14:21 Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.
MARKUS 14:22 En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
MARKUS 14:23 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.
MARKUS 14:24 En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word.
MARKUS 14:25 Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God.
MARKUS 14:26 En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.
MARKUS 14:27 Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My; want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word.
MARKUS 14:28 Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.
MARKUS 14:29 En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.
MARKUS 14:30 Daarop sê Jesus vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.
MARKUS 14:31 Maar hy het nog baie meer aangehou en gesê: Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê.
MARKUS 14:32 Toe kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid.
MARKUS 14:33 En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word.
MARKUS 14:34 En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak.
MARKUS 14:35 En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan.
MARKUS 14:36 En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.
MARKUS 14:37 En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie?
MARKUS 14:38 Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
MARKUS 14:39 Hy gaan toe weer weg en bid dieselfde woorde.
MARKUS 14:40 En toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar; en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie.
MARKUS 14:41 En Hy kom vir die derde keer en sê aan hulle: Slaap maar voort en rus. Dit is genoeg; die uur het gekom. Kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van die sondaars.
MARKUS 14:42 Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.
MARKUS 14:43 En dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge.
MARKUS 14:44 En sy verraaier het 'n teken met hulle afgespreek en gesê: Die een wat ek sal soen--dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg.
MARKUS 14:45 En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom.
MARKUS 14:46 Daarop slaan hulle hul hande aan Hom en gryp Hom.
MARKUS 14:47 En een van die wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.
MARKUS 14:48 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem?
MARKUS 14:49 Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word.
MARKUS 14:50 Toe het almal Hom verlaat en gevlug.
MARKUS 14:51 En 'n sekere jongman met 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp;
MARKUS 14:52 maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.
MARKUS 14:53 En hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester. En al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes het by hom vergader.
MARKUS 14:54 En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, en het saam met die dienaars gesit en hom by die vuur warm gemaak.
MARKUS 14:55 En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie;
MARKUS 14:56 want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie.
MARKUS 14:57 En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê:
MARKUS 14:58 Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie.
MARKUS 14:59 En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie.
MARKUS 14:60 Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?
MARKUS 14:61 Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?
MARKUS 14:62 En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.
MARKUS 14:63 Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig!
MARKUS 14:64 Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was.
MARKUS 14:65 En sommige het begin om op Hom te spuug en sy aangesig toe te maak en Hom met die vuis te slaan en vir Hom te sê: Profeteer! En die dienaars het Hom met stokke geslaan.
MARKUS 14:66 En terwyl Petrus onder in die binneplaas was, kom daar een van die diensmeisies van die hoëpriester,
MARKUS 14:67 en toe sy Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: Jy was ook by die Nasaréner, Jesus.
MARKUS 14:68 Maar hy het dit ontken en gesê: Ek weet nie en begryp nie wat jy sê nie. En hy het buite na die voorplein gegaan; en die haan het gekraai.
MARKUS 14:69 En toe die diensmeisie hom weer sien, begin sy aan die wat daar staan, te sê: Hierdie man behoort by hulle.
MARKUS 14:70 Maar hy het dit weer ontken. En 'n bietjie later weer sê die wat daar staan vir Petrus: Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook 'n Galiléër en jou spraak is net so.
MARKUS 14:71 Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken nie daardie man van wie julle praat nie.
MARKUS 14:72 En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500