South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Esegiël 42

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48]

ESEGIËL 42:1 Daarna het hy my uitgebring na die buitenste voorhof op die weg na die noorde toe; en hy het my gebring na die kamers wat teenoor die afgeslote ruimte en wat teenoor die bouwerk teen die noorde lê,
ESEGIËL 42:2 oor 'n lengte van honderd el, langs die noordelike ingang, en 'n breedte van vyftig el.
ESEGIËL 42:3 Teenoor die twintig el wat by die binneste voorhof behoort, en teenoor die plaveisel wat by die buitenste voorhof behoort, was galery teenoor galery in drie verdiepinge.
ESEGIËL 42:4 En voor die kamers was 'n gang van tien el breedte, na binnetoe, honderd el lank; en hulle deure was teen die noorde.
ESEGIËL 42:5 En die boonste kamers was korter, want die galerye het ruimte van hulle weggeneem in vergelyking met die onderstes en die middelstes in die bouwerk;
ESEGIËL 42:6 want hulle het drie verdiepinge gehad, maar geen pilare soos die pilare van die voorhowe nie; daarom is daar ruimte weggeneem in vergelyking met die onderstes en die middelstes, van die grond af.
ESEGIËL 42:7 En daar was 'n muur wat buitekant ewewydig met die kamers geloop het, na die buitenste voorhof toe, vooraan die kamers, vyftig el lank.
ESEGIËL 42:8 Want die lengte van die kamers wat na die buitenste voorhof lê, was vyftig el; en kyk, teenoor die tempel was honderd el.
ESEGIËL 42:9 En onder hierdie kamers was die ingang van die oostekant af as iemand na hulle toe ingaan uit die buitenste voorhof uit.
ESEGIËL 42:10 In die breedte van die muur van die voorhof, na die suide toe, vooraan die afgeslote ruimte en vooraan die bouwerk, was daar kamers,
ESEGIËL 42:11 met 'n weg voor hulle, soos die voorkoms van die kamers wat na die noorde toe lê, net so lank en so breed as hulle, en al die uitgange en inrigtinge soos by hulle. En soos hulle ingange,
ESEGIËL 42:12 so was ook die ingange van die kamers wat na die suide lê: 'n ingang by die begin van die weg, naamlik die weg voor die ooreenkomende muur, na die ooste toe, as 'n mens na hulle toe aankom.
ESEGIËL 42:13 Toe het hy vir my gesê: Die noordelike kamers en die suidelike kamers wat teenoor die afgeslote ruimte lê, hulle is die heilige kamers waar die priesters wat na die HERE nader kom, die hoogheilige gawes moet eet; daar moet hulle die hoogheilige gawes neersit: die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer, want die plek is heilig.
ESEGIËL 42:14 As die priesters ingaan, dan mag hulle nie uit die heiligdom uitgaan na die buitenste voorhof nie, maar daar moet hulle hul klere neersit waarin hulle diens gedoen het; want dié is heilig; hulle moet ander klere aantrek en dan nader kom na die ruimte wat vir die volk bestem is.
ESEGIËL 42:15 En toe hy klaar was met die mate van die binneste huis, het hy my na die poort toe uitgebring waarvan die voorkant na die ooste lê, en dit gemeet al rondom.
ESEGIËL 42:16 Hy het die oostekant met die meetroede gemeet: vyf honderd roede, met die meetroede rondom.
ESEGIËL 42:17 Hy het die noordekant gemeet: vyf honderd roede, met die meetroede rondom.
ESEGIËL 42:18 Die suidekant het hy gemeet: vyf honderd roede, met die meetroede.
ESEGIËL 42:19 Hy het hom begewe na die westekant en gemeet: vyf honderd roede, met die meetroede.
ESEGIËL 42:20 Hy het dit aan vier kante gemeet; dit het 'n muur gehad al rondom; die lengte was vyf honderd en die breedte vyf honderd, om skeiding te maak tussen wat heilig en onheilig is.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500