South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Lukas 11

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

LUKAS 11:1 En toe Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het.
LUKAS 11:2 En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
LUKAS 11:3 gee ons elke dag ons daaglikse brood;
LUKAS 11:4 en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
LUKAS 11:5 En Hy het vir hulle gesê: Wie van julle sal 'n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode,
LUKAS 11:6 want 'n vriend van my het van 'n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie--
LUKAS 11:7 en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie.
LUKAS 11:8 Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.
LUKAS 11:9 En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.
LUKAS 11:10 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.
LUKAS 11:11 En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom 'n klip gee; of ook 'n vis, en hy sal hom in plaas van 'n vis 'n slang gee;
LUKAS 11:12 of ook as hy 'n eier vra, hom 'n skerpioen gee?
LUKAS 11:13 As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?
LUKAS 11:14 En Hy het 'n duiwel uitgedryf, en dié was stom. En toe die duiwel uitgaan, het die stom man gepraat; en die skare het hulle verwonder.
LUKAS 11:15 Maar sommige van hulle sê: Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit.
LUKAS 11:16 En ander het Hom versoek en van Hom 'n teken uit die hemel begeer.
LUKAS 11:17 Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en 'n huis wat teen homself is, val.
LUKAS 11:18 En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle sê dat Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf.
LUKAS 11:19 En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.
LUKAS 11:20 Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.
LUKAS 11:21 Wanneer 'n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid.
LUKAS 11:22 Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit.
LUKAS 11:23 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
LUKAS 11:24 Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.
LUKAS 11:25 En hy kom en vind dit uitgevee en versierd.
LUKAS 11:26 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.
LUKAS 11:27 En terwyl Hy dit spreek, het 'n vrou uit die skare haar stem verhef en vir Hom gesê: Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het.
LUKAS 11:28 En Hy sê: Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.
LUKAS 11:29 En toe die skare saamstroom, begin Hy te sê: Hierdie geslag is boos; dit soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.
LUKAS 11:30 Want soos Jona 'n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag.
LUKAS 11:31 Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en--meer as Salomo is hier!
LUKAS 11:32 Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en--meer as Jona is hier!
LUKAS 11:33 En niemand steek 'n lamp op en sit dit in 'n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.
LUKAS 11:34 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.
LUKAS 11:35 Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.
LUKAS 11:36 As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.
LUKAS 11:37 En onderwyl Hy besig was om te spreek, het 'n sekere Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet; en Hy het ingekom en aan tafel gegaan.
LUKAS 11:38 En toe die Fariseër dit sien, het hy hom verwonder dat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie.
LUKAS 11:39 Maar die Here sê vir hom: Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.
LUKAS 11:40 Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie?
LUKAS 11:41 Maar gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein.
LUKAS 11:42 Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.
LUKAS 11:43 Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte.
LUKAS 11:44 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is soos grafte wat onherkenbaar is, en die mense wat daaroor loop, weet dit nie.
LUKAS 11:45 Toe antwoord een van die wetgeleerdes en sê vir Hom: Meester, as U só spreek, beledig U ons ook.
LUKAS 11:46 En Hy sê: Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers aan nie.
LUKAS 11:47 Wee julle, want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het hulle gedood.
LUKAS 11:48 Julle gee dus getuienis vir die werke van julle vaders en het saam welbehae daarin, want hulle het hul gedood en julle bou hul grafte.
LUKAS 11:49 Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg,
LUKAS 11:50 sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af,
LUKAS 11:51 van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.
LUKAS 11:52 Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.
LUKAS 11:53 En toe Hy dit aan hulle sê, begin die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom skerp in die oog te hou en Hom uit te vra oor baie dinge,
LUKAS 11:54 om vir Hom 'n strik te stel en te probeer om iets uit sy mond op te vang, sodat hulle Hom kon beskuldig.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500