South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Lukas 18

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

LUKAS 18:1 En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,
LUKAS 18:2 en gesê: Daar was 'n regter in 'n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie.
LUKAS 18:3 En daar was in daardie stad 'n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty.
LUKAS 18:4 En 'n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie,
LUKAS 18:5 tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.
LUKAS 18:6 Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê.
LUKAS 18:7 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?
LUKAS 18:8 Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
LUKAS 18:9 En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.
LUKAS 18:10 Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een 'n Fariseër en die ander 'n tollenaar.
LUKAS 18:11 En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie--rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.
LUKAS 18:12 Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.
LUKAS 18:13 En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!
LUKAS 18:14 Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.
LUKAS 18:15 En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf.
LUKAS 18:16 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
LUKAS 18:17 Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
LUKAS 18:18 En 'n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?
LUKAS 18:19 En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God.
LUKAS 18:20 Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder.
LUKAS 18:21 En hy sê: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.
LUKAS 18:22 En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou--verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My.
LUKAS 18:23 Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.
LUKAS 18:24 En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan.
LUKAS 18:25 Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
LUKAS 18:26 Daarop sê die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word?
LUKAS 18:27 Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.
LUKAS 18:28 Toe sê Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.
LUKAS 18:29 En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God,
LUKAS 18:30 wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in die eeu wat kom.
LUKAS 18:31 En Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word.
LUKAS 18:32 Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en op Hom sal gespuug word;
LUKAS 18:33 en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.
LUKAS 18:34 Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek, en hulle het nie verstaan wat gesê is nie.
LUKAS 18:35 En terwyl Hy naby Jérigo kom, sit daar 'n blinde man langs die pad en bedel;
LUKAS 18:36 en toe hy 'n skare hoor verbygaan, vra hy wat dit is.
LUKAS 18:37 En hulle vertel hom: Jesus die Nasaréner gaan verby.
LUKAS 18:38 Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig!
LUKAS 18:39 En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig!
LUKAS 18:40 En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom
LUKAS 18:41 en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien.
LUKAS 18:42 En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered.
LUKAS 18:43 En onmiddellik het hy gesien en Hom gevolg, terwyl hy God verheerlik. En toe die hele volk dit sien, het hulle aan God die lof gegee.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500