South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Lukas 16

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

LUKAS 16:1 En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis.
LUKAS 16:2 En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.
LUKAS 16:3 Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my.
LUKAS 16:4 Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang.
LUKAS 16:5 Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste: Hoeveel skuld jy aan my heer?
LUKAS 16:6 En hy antwoord: honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.
LUKAS 16:7 Daarna sê hy vir 'n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.
LUKAS 16:8 En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig.
LUKAS 16:9 En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.
LUKAS 16:10 Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.
LUKAS 16:11 As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?
LUKAS 16:12 En as julle nie getrou was in 'n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?
LUKAS 16:13 Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.
LUKAS 16:14 En die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp.
LUKAS 16:15 En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is 'n gruwel voor God.
LUKAS 16:16 Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.
LUKAS 16:17 Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.
LUKAS 16:18 Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.
LUKAS 16:19 En daar was 'n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.
LUKAS 16:20 En daar was 'n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.
LUKAS 16:21 En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.
LUKAS 16:22 En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.
LUKAS 16:23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.
LUKAS 16:24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.
LUKAS 16:25 Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.
LUKAS 16:26 En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.
LUKAS 16:27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur--
LUKAS 16:28 want ek het vyf broers--om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
LUKAS 16:29 Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.
LUKAS 16:30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
LUKAS 16:31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500