South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Lukas 14

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

LUKAS 14:1 En toe Hy in die huis van een van die owerstes van die Fariseërs gegaan het om brood te eet op die sabbat, het hulle Hom in die oog gehou.
LUKAS 14:2 En daar was voor Hom 'n man wat die water gehad het.
LUKAS 14:3 En Jesus het gespreek en aan die wetgeleerdes en Fariseërs gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat te genees?
LUKAS 14:4 Maar hulle het stilgebly. Toe neem Hy hom en maak hom gesond en laat hom gaan.
LUKAS 14:5 En Hy antwoord en sê vir hulle: Wie van julle se esel of os sal in 'n put val, wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie?
LUKAS 14:6 En hulle kon Hom daarop nie antwoord nie.
LUKAS 14:7 En toe Hy merk hoe hulle die voorste plekke uitkies, vertel Hy aan die genooides 'n gelykenis en sê vir hulle:
LUKAS 14:8 Wanneer jy deur iemand na 'n bruilof uitgenooi is, moenie die voorste plek inneem nie, ingeval daar nie miskien een wat waardiger is as jy deur hom uitgenooi is nie,
LUKAS 14:9 en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: Maak plek vir hierdie man. En dan sal jy met skaamte die agterste plek begin inneem.
LUKAS 14:10 Maar wanneer jy genooi is, gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy eer hê voor die wat saam met jou aan tafel is.
LUKAS 14:11 Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.
LUKAS 14:12 En Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: Wanneer jy 'n môre-- of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie.
LUKAS 14:13 Maar wanneer jy 'n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes,
LUKAS 14:14 en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.
LUKAS 14:15 En toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God.
LUKAS 14:16 Maar Hy antwoord hom: 'n Sekere man het 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi.
LUKAS 14:17 En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.
LUKAS 14:18 En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het 'n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog.
LUKAS 14:19 En 'n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog.
LUKAS 14:20 En 'n ander een het gesê: Ek het 'n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.
LUKAS 14:21 En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in.
LUKAS 14:22 En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek.
LUKAS 14:23 Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.
LUKAS 14:24 Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.
LUKAS 14:25 En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê:
LUKAS 14:26 As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.
LUKAS 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.
LUKAS 14:28 Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? --
LUKAS 14:29 sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot
LUKAS 14:30 en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.
LUKAS 14:31 Of watter koning wat optrek om teen 'n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie?
LUKAS 14:32 Anders stuur hy 'n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes.
LUKAS 14:33 So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.
LUKAS 14:34 Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word?
LUKAS 14:35 Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500