South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Jesaja 49

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52] [53] [54] [55] [56] [57] [58] [59] [60] [61] [62] [63] [64] [65] [66]

JES 49:1 Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die HERE het My geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem.
JES 49:2 En Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My 'n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek;
JES 49:3 en Hy het vir My gesê: Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik.
JES 49:4 Maar Ék het gesê: Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer! Nogtans is my reg by die HERE, en my loon is by my God.
JES 49:5 En nou sê die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word--en Ek word geëer in die oë van die HERE, en my God is my sterkte--
JES 49:6 Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.
JES 49:7 So sê die HERE, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat 'n afsku is by die volk, 'n Kneg van die heersers: Konings sal dit sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die HERE wat getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.
JES 49:8 So sê die HERE: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe;
JES 49:9 om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees.
JES 49:10 Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.
JES 49:11 En Ek sal al my berge tot 'n weg maak, en my grootpaaie sal opgevul wees.
JES 49:12 Kyk, hulle hiér kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete.
JES 49:13 Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die HERE het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges.
JES 49:14 Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!
JES 49:15 Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!
JES 49:16 Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.
JES 49:17 Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af wegtrek.
JES 49:18 Slaan jou oë rondom op en kyk: hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe! So waar as Ek leef, spreek die HERE, sekerlik sal jy hulle almal aansit soos 'n versiersel, hulle ombind soos 'n bruid.
JES 49:19 Want jou puinhope en jou verwoeste plekke en jou verwoeste land--sekerlik, nou sal jy te nou wees vir die inwoners, en die wat jou verslind het, is ver weg!
JES 49:20 Nog sal die kinders waarvan jy beroof is, voor jou ore sê: Die plek is te nou vir my; maak vir my plek, dat ek kan woon!
JES 49:21 Dan sal jy in jou hart sê: Wie het vir my hierdie kinders gebaar, aangesien ek kinderloos en onvrugbaar was, verban en verstote? En wie het hulle grootgemaak? Kyk, ek het toe alleen oorgebly; hierdie kinders--waar was húlle?
JES 49:22 So sê die Here HERE: Kyk, Ek sal my hand ophef na die nasies en my banier opsteek na die volke; dan sal hulle jou seuns aan die boesem bring, en jou dogters sal op die skouer gedra word;
JES 49:23 en konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders; hulle sal voor jou neerbuig met die aangesig na die aarde toe en die stof van jou voete lek; en jy sal weet dat Ek die HERE is, dat hulle nie beskaamd staan wat My verwag nie.
JES 49:24 Sal van 'n held die buit afgeneem word? Of sal die gevangenes van 'n regverdige ontvlug?
JES 49:25 Waarlik, so sê die HERE: Ja, die gevangenes van die held sal afgeneem word, en die buit van die tiran sal ontvlug; en jou bestryder sal Ék bestry en jou kinders sal Ek verlos.
JES 49:26 En Ek sal jou verdrukkers hulle eie vlees laat eet, en van hulle eie bloed sal hulle dronk word soos van mos. Dan sal alle vlees gewaar word dat Ek, die HERE, jou Heiland is, en jou Verlosser die Magtige van Jakob.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500