South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Numeri 20

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36]

NUMERI 20:1 En toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe.
NUMERI 20:2 En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en Aäron saamgekom.
NUMERI 20:3 En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het!
NUMERI 20:4 En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe?
NUMERI 20:5 En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.
NUMERI 20:6 Daarop gaan Moses en Aäron van die vergadering af weg na die ingang van die tent van samekoms, en hulle het op hul aangesig geval; toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan hulle.
NUMERI 20:7 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
NUMERI 20:8 Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink.
NUMERI 20:9 Toe neem Moses die staf voor die aangesig van die HERE weg soos Hy hom beveel het.
NUMERI 20:10 En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?
NUMERI 20:11 Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee.
NUMERI 20:12 Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.
NUMERI 20:13 Dit is die waters van Mériba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het.
NUMERI 20:14 Daarna het Moses uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het.
NUMERI 20:15 Ons vaders het na Egipte afgetrek, en ons het baie dae in Egipte gewoon, en die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel.
NUMERI 20:16 Toe het ons die HERE aangeroep, en Hy het ons stem gehoor: Hy het 'n Engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, 'n stad op die grens van jou grondgebied.
NUMERI 20:17 Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het.
NUMERI 20:18 Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoettrek.
NUMERI 20:19 Toe sê die kinders van Israel vir hom: Ons sal met die grootpad trek, en as ons van jou water drink, ek en my vee, gee ek die prys daarvoor. Laat my net te voet deurtrek--verder niks nie.
NUMERI 20:20 Maar hy antwoord: Jy sal nie deurtrek nie. En Edom het uitgetrek hom tegemoet met baie manskappe en met 'n sterk hand.
NUMERI 20:21 So het Edom dan geweier om Israel toe te laat om deur sy grondgebied te trek. Daarop het Israel van hom af weggedraai.
NUMERI 20:22 En die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor gekom.
NUMERI 20:23 En die HERE het met Moses en Aäron by die berg Hor, op die grens van die land Edom, gespreek en gesê:
NUMERI 20:24 Aäron sal by sy volksgenote versamel word, want hy mag nie kom in die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my bevel wederstrewig was by die waters van Mériba.
NUMERI 20:25 Neem Aäron en sy seun Eleásar, en laat hulle op die berg Hor opklim;
NUMERI 20:26 en trek Aäron se klere uit en trek dit sy seun Eleásar aan; en Aäron sal daar by sy volksgenote versamel word en sterwe.
NUMERI 20:27 Toe het Moses gedoen soos die HERE beveel het: hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering.
NUMERI 20:28 En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleásar aangetrek. En Aäron het daar gesterwe op die top van die berg, maar Moses en Eleásar het van die berg afgeklim.
NUMERI 20:29 En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500