South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Johannes 13

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21]

JOHANNES 13:1 En voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.
JOHANNES 13:2 En gedurende die maaltyd--die duiwel het dit al in die hart van Judas Iskáriot, die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai--
JOHANNES 13:3 het Jesus, omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan,
JOHANNES 13:4 van die maaltyd opgestaan en sy bo-klere uitgetrek en 'n doek geneem en dit om Hom vasgemaak.
JOHANNES 13:5 Daarna het Hy water in 'n bak gegooi en die voete van die dissipels begin was en afdroog met die doek wat Hy omgehad het.
JOHANNES 13:6 Hy kom toe by Simon Petrus en dié sê vir Hom: Here, gaan U my voete was?
JOHANNES 13:7 Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan.
JOHANNES 13:8 Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie! Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.
JOHANNES 13:9 Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.
JOHANNES 13:10 Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.
JOHANNES 13:11 Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie almal rein nie.
JOHANNES 13:12 Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?
JOHANNES 13:13 Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.
JOHANNES 13:14 As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.
JOHANNES 13:15 Want Ek het julle 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.
JOHANNES 13:16 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, 'n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en 'n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.
JOHANNES 13:17 As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.
JOHANNES 13:18 Ek spreek nie van julle almal nie--Ek weet wie Ek uitverkies het--maar dat die Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.
JOHANNES 13:19 Van nou af sê Ek dit aan julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat dit Ek is.
JOHANNES 13:20 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.
JOHANNES 13:21 Toe Jesus dit gesê het, het Hy in sy gees ontsteld geword en getuig en gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.
JOHANNES 13:22 En die dissipels het na mekaar begin kyk, in twyfel omtrent die een van wie Hy dit sê.
JOHANNES 13:23 En een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê.
JOHANNES 13:24 Simon Petrus knik toe vir hom dat hy moet vra wie dit kon wees van wie Hy spreek.
JOHANNES 13:25 En hy val op die bors van Jesus en sê vir Hom: Here, wie is dit?
JOHANNES 13:26 Jesus antwoord: Dit is die een aan wie Ek die stukkie sal gee as Ek dit ingedoop het. En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskáriot, die seun van Simon.
JOHANNES 13:27 En nadat hy die stukkie geneem het, het die Satan in hom ingevaar. En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig.
JOHANNES 13:28 Maar waarom Hy dit vir hom gesê het, het niemand van die wat aan tafel was, verstaan nie.
JOHANNES 13:29 Want sommige het gedink, terwyl Judas die beurs gehad het, dat Jesus vir hom sê: Koop wat ons nodig het vir die fees; of dat hy iets aan die armes moes gee.
JOHANNES 13:30 Toe hy dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan. En dit was nag.
JOHANNES 13:31 En toe hy buite was, sê Jesus: Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik.
JOHANNES 13:32 As God in Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik en Hy sal Hom dadelik verheerlik.
JOHANNES 13:33 My kinders, nog 'n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie--so sê Ek nou ook vir julle.
JOHANNES 13:34 'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.35 Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.
JOHANNES 13:35
JOHANNES 13:36 Simon Petrus sê vir Hom: Here, waar gaan U heen? Jesus antwoord hom: Waar Ek heengaan, kan jy My nou nie volg nie, maar later sal jy My volg.
JOHANNES 13:37 Petrus sê vir Hom: Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U gee.
JOHANNES 13:38 Jesus antwoord hom: Sal jy jou lewe vir My gee? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500