South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Johannes 16

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21]

JOHANNES 16:1 Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie.
JOHANNES 16:2 Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom 'n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys.
JOHANNES 16:3 En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie.
JOHANNES 16:4 Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was.
JOHANNES 16:5 En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie?
JOHANNES 16:6 Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul.
JOHANNES 16:7 Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;
JOHANNES 16:8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:
JOHANNES 16:9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;
JOHANNES 16:10 en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie;
JOHANNES 16:11 en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.
JOHANNES 16:12 Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie.
JOHANNES 16:13 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.
JOHANNES 16:14 Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.
JOHANNES 16:15 Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.
JOHANNES 16:16 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.
JOHANNES 16:17 Sommige van sy dissipels het toe onder mekaar gevra: Wat is dit wat Hy vir ons sê: 'n Klein tydjie, en julle sien My nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien; en: Ek gaan na die Vader?
JOHANNES 16:18 Hulle het dan gevra: Wat is dit wat Hy sê: 'n Klein tydjie? Ons weet nie wat Hy sê nie.
JOHANNES 16:19 En Jesus het gemerk dat hulle Hom wou vra, en Hy sê vir hulle: Ondervra julle mekaar daaroor dat Ek gesê het: 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien?
JOHANNES 16:20 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander.
JOHANNES 16:21 'n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het; maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan haar benoudheid nie, om die blydskap dat 'n mens in die wêreld gebore is.
JOHANNES 16:22 Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie.
JOHANNES 16:23 En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.
JOHANNES 16:24 Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.
JOHANNES 16:25 Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse tot julle gespreek, maar daar kom 'n uur wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel.
JOHANNES 16:26 In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie;
JOHANNES 16:27 want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het.
JOHANNES 16:28 Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader.
JOHANNES 16:29 Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U ronduit en gebruik geen gelykenis nie.
JOHANNES 16:30 Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het.
JOHANNES 16:31 Jesus antwoord hulle: Glo julle nou?
JOHANNES 16:32 Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is.
JOHANNES 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500