Die Evangelie volgens Johannes 21 [1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
JOHANNES 21:1 Na hierdie dinge het Jesus weer aan sy dissipels verskyn by die see van Tibérias, en Hy het só verskyn:
JOHANNES 21:2 Daar was bymekaar Simon Petrus en Thomas wat Dídimus genoem word, en Natánael van Kana in Galiléa en die seuns van Sebedéüs en twee ander van sy dissipels.
JOHANNES 21:3 Simon Petrus sê vir hulle: Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou. En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie.
JOHANNES 21:4 En toe dit al dag geword het, staan Jesus op die strand; maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie.
JOHANNES 21:5 En Jesus sê vir hulle: My kinders, het julle nie iets om te eet nie? Hulle antwoord Hom: Nee.
JOHANNES 21:6 En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie.
JOHANNES 21:7 Daarop sê die dissipel--die een vir wie Jesus liefgehad het--aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om--want hy was naak--en werp homself in die see.
JOHANNES 21:8 Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent twee honderd el.
JOHANNES 21:9 En toe hulle geland het, sien hulle 'n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood.
JOHANNES 21:10 Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het.
JOHANNES 21:11 Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd drie en vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.
JOHANNES 21:12 Jesus sê vir hulle: Kom eet! En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: Wie is U nie? omdat hulle wis dat dit die Here was.
JOHANNES 21:13 En Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis.
JOHANNES 21:14 Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.
JOHANNES 21:15 Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei.
JOHANNES 21:16 Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op.
JOHANNES 21:17 Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.
JOHANNES 21:18 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en 'n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.
JOHANNES 21:19 En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My.
JOHANNES 21:20 En Petrus het hom omgedraai en die dissipel sien volg vir wie Jesus liefgehad het, die een wat by die maaltyd op sy bors geval en gesê het: Here, wie is u verraaier?
JOHANNES 21:21 Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: Here, maar wat van hom?
JOHANNES 21:22 Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My.
JOHANNES 21:23 Hierdie woord het toe onder die broeders uitgegaan dat daardie dissipel nie sou sterwe nie; en Jesus het nie vir hom gesê dat hy nie sou sterwe nie, maar: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?
JOHANNES 21:24 Dit is daardie dissipel wat van hierdie dinge getuig en hierdie dinge geskryf het, en ons weet dat sy getuienis waar is.
JOHANNES 21:25 En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie. Amen.
Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase