Die Evangelie volgens Johannes 18 [1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
JOHANNES 18:1 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar 'n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels.
JOHANNES 18:2 En Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus daar dikwels met sy dissipels saamgekom het.
JOHANNES 18:3 En Judas het die afdeling soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs geneem en daar gekom met fakkels en lampe en wapens.
JOHANNES 18:4 En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle?
JOHANNES 18:5 Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasaréner. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan.
JOHANNES 18:6 Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.
JOHANNES 18:7 Hy vra hulle toe weer: Wie soek julle? En hulle sê: Jesus, die Nasaréner.
JOHANNES 18:8 Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan--
JOHANNES 18:9 sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Uit die wat U My gegee het, het Ek niemand verloor nie.
JOHANNES 18:10 En Simon Petrus wat 'n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus.
JOHANNES 18:11 Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?
JOHANNES 18:12 En die afdeling en die owerste oor duisend en die dienaars van die Jode het Jesus gevange geneem en Hom geboei;
JOHANNES 18:13 en hulle het Hom weggelei, eers na Annas; want Hy was die skoonvader van Kájafas wat daardie jaar hoëpriester was.
JOHANNES 18:14 En dit was Kájafas wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterwe.
JOHANNES 18:15 En Simon Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg; en daardie dissipel was met die hoëpriester bekend en het saam met Jesus ingegaan in die binneplaas van die hoëpriester se paleis.
JOHANNES 18:16 Maar Petrus het buitekant by die deur bly staan. En die ander dissipel wat bekend was met die hoëpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Petrus ingebring.
JOHANNES 18:17 Toe sê die diensmeisie, die deurwagster, vir Petrus: Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie mens nie? Hy sê: Ek is nie.
JOHANNES 18:18 En die diensknegte en die dienaars het by 'n koolvuur gestaan wat hulle gemaak het--want dit was koud--en hulle het hul warm gemaak. En Petrus het by hulle gestaan en hom warm gemaak.
JOHANNES 18:19 Die hoëpriester ondervra Jesus toe oor sy dissipels en oor sy leer.
JOHANNES 18:20 Jesus antwoord hom: Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie.
JOHANNES 18:21 Wat ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het; hulle weet tog wat Ek gesê het.
JOHANNES 18:22 En toe Hy dit sê, het een van die dienaars wat daar staan, Jesus in die aangesig geslaan en gesê: Antwoord U die hoëpriester so?
JOHANNES 18:23 Jesus antwoord hom: As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?
JOHANNES 18:24 En Annas het Hom geboeid na Kájafas, die hoëpriester, gestuur.
JOHANNES 18:25 En Simon Petrus het hom staan en warm maak. En hulle sê vir hom: Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie? Toe ontken hy dit en sê: Ek is nie.
JOHANNES 18:26 Een van die hoëpriester se diensknegte wat familie was van die man wie se oor Petrus afgekap het, sê: Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?
JOHANNES 18:27 En Petrus het dit weer ontken; en dadelik het die haan gekraai.
JOHANNES 18:28 Toe neem hulle Jesus van Kájafas na die goewerneur se paleis. En dit was vroeg in die môre; en hulle het self nie in die paleis ingegaan nie, dat hulle hul nie sou verontreinig nie, maar dat hulle die pasga kon eet.
JOHANNES 18:29 En Pilatus het na hulle uitgekom en gesê: Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?
JOHANNES 18:30 Hulle antwoord en sê vir hom: As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.
JOHANNES 18:31 En Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet. En die Jode sê vir hom: Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie--
JOHANNES 18:32 sodat die woord van Jesus vervul sou word wat Hy gesê het om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.
JOHANNES 18:33 Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode?
JOHANNES 18:34 Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê?
JOHANNES 18:35 Pilatus antwoord: Is ek dan 'n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?
JOHANNES 18:36 Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.
JOHANNES 18:37 Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.
JOHANNES 18:38 Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.
JOHANNES 18:39 Maar julle het 'n gewoonte dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat; wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?
JOHANNES 18:40 Toe skreeu hulle almal weer en sê: Nie vir Hom nie, maar Barábbas! En Barábbas was 'n rower.
Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase