South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Mattheus 11

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28]

MATTHEUS 11:1 En toe Jesus klaar was met bevele aan sy twaalf dissipels te gee, het Hy daarvandaan weggegaan om te leer en te preek in hulle stede.
MATTHEUS 11:2 En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur
MATTHEUS 11:3 en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?
MATTHEUS 11:4 En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien:
MATTHEUS 11:5 blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig.
MATTHEUS 11:6 En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
MATTHEUS 11:7 En toe hulle vertrek, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan om in die woestyn te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word?
MATTHEUS 11:8 Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat sagte klere dra, is in die huise van konings.
MATTHEUS 11:9 Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as 'n profeet!
MATTHEUS 11:10 Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.
MATTHEUS 11:11 Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.
MATTHEUS 11:12 Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.
MATTHEUS 11:13 Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer.
MATTHEUS 11:14 En as julle dit wil aanneem: hy is Elía wat sou kom.
MATTHEUS 11:15 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
MATTHEUS 11:16 Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep
MATTHEUS 11:17 en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie.
MATTHEUS 11:18 Want Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: Hy het 'n duiwel.
MATTHEUS 11:19 Die Seun van die mens het gekom--Hy eet en drink, en hulle sê: Dáár is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars. Maar die wysheid is geregverdig deur sy kinders.
MATTHEUS 11:20 Toe het Hy die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, begin verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie:
MATTHEUS 11:21 Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het.
MATTHEUS 11:22 Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle.
MATTHEUS 11:23 En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe.
MATTHEUS 11:24 Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou.
MATTHEUS 11:25 In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.
MATTHEUS 11:26 Ja, Vader, want so was dit u welbehae.
MATTHEUS 11:27 Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.
MATTHEUS 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
MATTHEUS 11:29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;
MATTHEUS 11:30 want my juk is sag en my las is lig.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500