South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Mattheus 15

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28]

MATTHEUS 15:1 Toe kom daar skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem na Jesus en sê:
MATTHEUS 15:2 Waarom oortree u dissipels die oorlewering van die ou mense? Want hulle was nie hul hande as hulle brood eet nie.
MATTHEUS 15:3 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?
MATTHEUS 15:4 Want God het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe.
MATTHEUS 15:5 Maar julle sê: Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is 'n offergawe--dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie.
MATTHEUS 15:6 So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.
MATTHEUS 15:7 Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het:
MATTHEUS 15:8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.
MATTHEUS 15:9 Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.
MATTHEUS 15:10 En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister en verstaan!
MATTHEUS 15:11 Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.
MATTHEUS 15:12 Daarop kom sy dissipels nader en sê vir Hom: Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?
MATTHEUS 15:13 Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.
MATTHEUS 15:14 Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as 'n blinde 'n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.
MATTHEUS 15:15 En Petrus antwoord en sê vir Hom: Verklaar vir ons hierdie gelykenis.
MATTHEUS 15:16 Maar Jesus sê: Is julle dan ook nog sonder verstand?
MATTHEUS 15:17 Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie?
MATTHEUS 15:18 Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.
MATTHEUS 15:19 Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.
MATTHEUS 15:20 Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.
MATTHEUS 15:21 En Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek.
MATTHEUS 15:22 En 'n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.
MATTHEUS 15:23 Maar Hy het haar nie 'n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan.
MATTHEUS 15:24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.
MATTHEUS 15:25 Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my!
MATTHEUS 15:26 Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.
MATTHEUS 15:27 En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.
MATTHEUS 15:28 Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.
MATTHEUS 15:29 Toe gaan Jesus daarvandaan weg en kom by die see van Galiléa; en Hy het op die berg geklim en daar gaan sit.
MATTHEUS 15:30 En ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak,
MATTHEUS 15:31 sodat die skare verbaas was om te sien dat stommes praat, gebreklikes gesond word, kreupeles loop en blindes sien; en hulle het die God van Israel verheerlik.
MATTHEUS 15:32 Toe het Jesus sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie.
MATTHEUS 15:33 En sy dissipels sê vir Hom: Waar sal ons in die woestyn soveel brode vandaan kry om so 'n groot skare te versadig?
MATTHEUS 15:34 Toe sê Jesus vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle antwoord: Sewe, en 'n paar vissies.
MATTHEUS 15:35 En Hy het bevel gegee aan die skare om op die grond te gaan sit.
MATTHEUS 15:36 Toe neem Hy die sewe brode en die visse, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels aan die skare.
MATTHEUS 15:37 En hulle het almal geëet en versadig geword; en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol.
MATTHEUS 15:38 En die wat geëet het, was vier duisend manne buiten die vroue en kinders.
MATTHEUS 15:39 En nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy in die skuit gegaan en in die gebied van Mágdala gekom.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500