South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Mattheus 12

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28]

MATTHEUS 12:1 In daardie tyd het Jesus op die sabbat deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het honger geword en are begin pluk en eet.
MATTHEUS 12:2 Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie.
MATTHEUS 12:3 Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie--toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het--
MATTHEUS 12:4 hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?
MATTHEUS 12:5 Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie?
MATTHEUS 12:6 En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier.
MATTHEUS 12:7 Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie;
MATTHEUS 12:8 want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.
MATTHEUS 12:9 En Hy het daarvandaan weggegaan en in hulle sinagoge gekom.
MATTHEUS 12:10 En daar was 'n man met 'n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? --sodat hulle Hom sou kan aanklae.
MATTHEUS 12:11 Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in 'n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie?
MATTHEUS 12:12 Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.
MATTHEUS 12:13 Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een.
MATTHEUS 12:14 Daarop het die Fariseërs uitgegaan en saam raad gehou teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.
MATTHEUS 12:15 Toe Jesus dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan, en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak,
MATTHEUS 12:16 en hulle 'n streng bevel gegee dat hulle Hom nie bekend moes maak nie,
MATTHEUS 12:17 sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet:
MATTHEUS 12:18 Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel 'n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig.
MATTHEUS 12:19 Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.
MATTHEUS 12:20 'n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en 'n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.
MATTHEUS 12:21 En op sy Naam sal die heidene hoop.
MATTHEUS 12:22 Toe het hulle 'n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.
MATTHEUS 12:23 En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?
MATTHEUS 12:24 Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.
MATTHEUS 12:25 Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.
MATTHEUS 12:26 En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?
MATTHEUS 12:27 En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.
MATTHEUS 12:28 Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.
MATTHEUS 12:29 Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.
MATTHEUS 12:30 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
MATTHEUS 12:31 Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.
MATTHEUS 12:32 En elkeen wat 'n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.
MATTHEUS 12:33 Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.
MATTHEUS 12:34 Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.
MATTHEUS 12:35 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.
MATTHEUS 12:36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.
MATTHEUS 12:37 Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.
MATTHEUS 12:38 Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag 'n teken van U sien.
MATTHEUS 12:39 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.
MATTHEUS 12:40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.
MATTHEUS 12:41 Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en--meer as Jona is hier!
MATTHEUS 12:42 Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en--meer as Salomo is hier!
MATTHEUS 12:43 En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.
MATTHEUS 12:44 Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.
MATTHEUS 12:45 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.
MATTHEUS 12:46 En terwyl Hy nog met die skare spreek, staan sy moeder en broers daarbuite en wou graag met Hom praat.
MATTHEUS 12:47 Toe sê iemand vir Hom: Dáár staan u moeder en u broers buite en wil graag met U praat.
MATTHEUS 12:48 Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers?
MATTHEUS 12:49 En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Dáár is my moeder en my broers.
MATTHEUS 12:50 Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500