South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Mattheus 26

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28]

MATTHEUS 26:1 En toe Jesus al hierdie woorde geëindig het, sê Hy vir sy dissipels:
MATTHEUS 26:2 Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.
MATTHEUS 26:3 Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word,
MATTHEUS 26:4 en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring.
MATTHEUS 26:5 Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.
MATTHEUS 26:6 En toe Jesus in Betánië was in die huis van Simon, die melaatse,
MATTHEUS 26:7 kom 'n vrou na Hom met 'n albaste fles met baie kosbare salf, en sy gooi dit op sy hoof uit terwyl Hy aan tafel was.
MATTHEUS 26:8 En toe sy dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en sê: Waarvoor is hierdie verkwisting?
MATTHEUS 26:9 Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld aan die armes gegee geword het.
MATTHEUS 26:10 Maar toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: Waarom val julle die vrou lastig? Want sy het 'n goeie werk aan My gedoen.
MATTHEUS 26:11 Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.
MATTHEUS 26:12 Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis.
MATTHEUS 26:13 Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar.
MATTHEUS 26:14 Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters
MATTHEUS 26:15 en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg.
MATTHEUS 26:16 En van toe af het hy 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
MATTHEUS 26:17 En op die eerste dag van die ongesuurde brode kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet?
MATTHEUS 26:18 En Hy antwoord: Gaan na die stad na 'n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels.
MATTHEUS 26:19 Daarop het die dissipels gedoen soos Jesus hulle beveel het, en hulle het die pasga berei.
MATTHEUS 26:20 En toe dit aand geword het, was Hy met die twaalf aan tafel.
MATTHEUS 26:21 En terwyl hulle eet, sê Hy: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.
MATTHEUS 26:22 Toe word hulle baie bedroef en begin elkeen van hulle aan Hom te sê: Is dit miskien ek, Here?
MATTHEUS 26:23 Toe antwoord Hy en sê: Hy wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai.
MATTHEUS 26:24 Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.
MATTHEUS 26:25 En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê.
MATTHEUS 26:26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
MATTHEUS 26:27 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
MATTHEUS 26:28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.
MATTHEUS 26:29 Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.
MATTHEUS 26:30 En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.
MATTHEUS 26:31 Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.
MATTHEUS 26:32 Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.
MATTHEUS 26:33 Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.
MATTHEUS 26:34 Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën.
MATTHEUS 26:35 Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê.
MATTHEUS 26:36 Toe kom Jesus met hulle in 'n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.
MATTHEUS 26:37 En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word.
MATTHEUS 26:38 Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.
MATTHEUS 26:39 En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.
MATTHEUS 26:40 En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?
MATTHEUS 26:41 Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
MATTHEUS 26:42 Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.
MATTHEUS 26:43 Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar.
MATTHEUS 26:44 En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê.
MATTHEUS 26:45 Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars.
MATTHEUS 26:46 Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.
MATTHEUS 26:47 En terwyl Hy nog spreek, daar kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en ouderlinge van die volk.
MATTHEUS 26:48 En sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!
MATTHEUS 26:49 En dadelik gaan hy na Jesus en sê: Gegroet, Rabbi! en hy het Hom gesoen.
MATTHEUS 26:50 Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom.
MATTHEUS 26:51 En een van die wat saam met Jesus was, het meteens sy hand uitgesteek en sy swaard getrek; en hy het die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.
MATTHEUS 26:52 Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.
MATTHEUS 26:53 Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?
MATTHEUS 26:54 Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?
MATTHEUS 26:55 In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen 'n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie.
MATTHEUS 26:56 Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug.
MATTHEUS 26:57 En die wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kájafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het.
MATTHEUS 26:58 En Petrus het Hom van ver af gevolg tot by die paleis van die hoëpriester, en hy het ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien.
MATTHEUS 26:59 En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie.
MATTHEUS 26:60 En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie.
MATTHEUS 26:61 Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou.
MATTHEUS 26:62 Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?
MATTHEUS 26:63 Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?
MATTHEUS 26:64 Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.
MATTHEUS 26:65 Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor!
MATTHEUS 26:66 Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig.
MATTHEUS 26:67 Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan,
MATTHEUS 26:68 en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?
MATTHEUS 26:69 En Petrus het buitekant gesit in die binneplaas van die paleis, en 'n sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: Jy was ook by Jesus, die Galiléër!
MATTHEUS 26:70 Maar hy het dit voor almal ontken en gesê: Ek weet nie wat jy sê nie.
MATTHEUS 26:71 En terwyl hy uitgaan na die poort toe, sien 'n ander diensmeisie hom en sê aan die wat daar was: Hierdie een was ook by Jesus, die Nasaréner.
MATTHEUS 26:72 En met 'n eed ontken hy dit weer: Ek ken die man nie.
MATTHEUS 26:73 Maar 'n bietjie later kom die wat daar staan, en sê vir Petrus: Waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend.
MATTHEUS 26:74 Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie.
MATTHEUS 26:75 En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500