South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Mattheus 28

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28]

MATTHEUS 28:1 En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk.
MATTHEUS 28:2 En daar kom 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit.
MATTHEUS 28:3 En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.
MATTHEUS 28:4 En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.
MATTHEUS 28:5 Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.
MATTHEUS 28:6 Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;
MATTHEUS 28:7 en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.
MATTHEUS 28:8 En hulle het haastig weggegaan van die graf met vrees en groot blydskap, en gehardloop om dit aan sy dissipels te vertel.
MATTHEUS 28:9 En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom.
MATTHEUS 28:10 En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien.
MATTHEUS 28:11 En terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het.
MATTHEUS 28:12 En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee
MATTHEUS 28:13 en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.
MATTHEUS 28:14 En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is.
MATTHEUS 28:15 Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.
MATTHEUS 28:16 En die elf dissipels het na Galiléa gegaan, na die berg waar Jesus hulle bestel het.
MATTHEUS 28:17 En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel.
MATTHEUS 28:18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
MATTHEUS 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
MATTHEUS 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500