South African Bible Believer


South African Bible Believers: Afrikaans

 

Job 19

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

JOB 19:1 Maar Job het geantwoord en gesê:
JOB 19:2 Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?
JOB 19:3 Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam.
JOB 19:4 En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my.
JOB 19:5 As julle jul werklik teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys,
JOB 19:6 weet dan dat Gód my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het.
JOB 19:7 As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie.
JOB 19:8 Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.
JOB 19:9 My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.
JOB 19:10 Hy werp my aan alle kante omver, en--daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos 'n boom.
JOB 19:11 Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande.
JOB 19:12 As een man kom sy skare aan en baan 'n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent.
JOB 19:13 My broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.
JOB 19:14 My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.
JOB 19:15 My bywoners en my slavinne beskou my as 'n vreemde; 'n onbekende het ek geword in hulle oë.
JOB 19:16 Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.
JOB 19:17 My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.
JOB 19:18 Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.
JOB 19:19 Al my vertroude vriende het 'n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer.
JOB 19:20 My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap.
JOB 19:21 Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!
JOB 19:22 Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie?
JOB 19:23 Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in 'n boek opgeteken word--
JOB 19:24 met 'n ystergriffel en lood--vir altyd in 'n rots ingekap!
JOB 19:25 Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.
JOB 19:26 En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;
JOB 19:27 Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë--en geen vreemde nie--sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.
JOB 19:28 As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! --
JOB 19:29 vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar 'n oordeel is.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase


The Fundamental Top 500